Nuus

INDEKS

Die Eekhoring – Nuusbriewe van die Argief
Konferensies
Publikasies van die Argief
Video’s van die Argief
Willie Jonker Digitale Argief
Kerkseel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk

DIE EEKHORING

Stellenbosch is bekend vir sy eekhorings. Hulle versamel, stoor en versprei kos. Net so is die Argief: ons versamel argivalia, ons stoor dit onder ideale omstandighede, ons soek voortdurend na iets nuuts en herontdek die oue, maar ons deel ook graag met ander. Vandaar die naam van ons Nuusbrief.

Die Eekhoring 13 – Junie 2024
Die Eekhoring 12 – Desember 2023
Die Eekhoring 11 – Junie 2023
Die Eekhoring 10 – Desember 2022
Die Eekhoring 9 – Junie 2022
Die Eekhoring 8 – Desember 2021
Die Eekhoring 7 – Julie 2021
Die Eekhoring 6 – Desember 2020
Die Eekhoring 5 – Junie 2020
Die Eekhoring 4 – Desember 2019
Die Eekhoring 3 – Julie 2019

Die Eekhoring 2 – Desember 2018
Die Eekhoring 1 – Julie 2018

KONFERENSIES


Kerkwees 200: Herdenk – Hervorm – Hoop
Konferensie ter herdenking van die eerste sinodesitting van die Kaapsche Kerk op 2
November 1824

ARGIEFPUBLIKASIEREEKS

[Boek 7] Thin space tussen hemel en aarde [Samesteller: Prof Elna Mouton]

Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington is ’n pragtige spirituele ruimte. Dit is ’n plek vir stilword en heelword. In hierdie pragtige koffietafelboek vertel Elna Mouton die verhaal van die totstandkoming van hierdie Sentrum. Visueel is dit ’n asemrowende boek met pragfoto’s van onder meer Neil Büchner en David Müller. Dit vertel die storie van die Sentrum sedert sy ontstaan as Hugenote Seminarie en Sendinginstituut. Dit is nie net ’n baie belangrike publikasie ten opsigte van die ontstaansgeskiedenis van die Sentrum nie, maar ook ’n getuienis van die diverse aard van belewenisse wat die Sentrum bied. Die boek is die sewende in die Argiefpublikasiereeks.

Die boek kan per e-pos by die Argief bestel word en kos R380,00 plus posgeld.
Klik hier om te bestel: e-pos

[Boek 6] Kerkenboek van de Caap van goede hope (1665 – 1695) [Outeur: Dr Erik A de Boer]


Kerkenboek van de Caap van goede hope (1665 – 1695) is ’n geannoteerde transkripsie van die oudste dokument by die NG Kerk Argief. Dit behels die saamgebundelde notuleboeke, doopregisters, lidmaatregisters en huweliksregisters van die NG Gemeente Kaapstad vir die tydperk 1665 tot 1695. Die boek word ryklik aangevul met ’n volledige foto-weergawe van die oorspronklike dokument. Hierdie is die sesde boek in die Argiefpublikasiereeks.

Die boek kan per e-pos by die Argief bestel word en kos R250,00 plus posgeld.
Klik hier om te bestel: e-pos

[Book 5] The Evangelists [Author: Prof Piet Jonas]

This book of 537 pages consists of 10 chapters, describing the work of the evangelists in the former Cape Province, Transkei and Ciskei, as well as in the Western Cape and Northern Cape. Short biographies of 549 evangelists are given in the book.
This is a recommendable book for anyone interested in the work of the evangelists in bringing the Word of God to the indigenous people of South Africa.
This book is available from the DR Church Archives. Please order via email. The price is R250,00 plus postage. Click here to order: e-mail

[Boek 4] Die Here sal Voorsien [Outeur: Ds Jaco Coetsee]

“Die Here sal Voorsien” handel oor meer as 100 jaar se geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Sendinggemeente Stellenbosch (sedert 1994 bekend as die Verenigende Gereformeerde Gemeente Stellenbosch). Die boek beskryf die gemeentelike lewe deur die strydjare na 1948, die onrus en onluste van 1976, die skoleboikotte van 1986 tot 1989 en die oorgang na die nuwe demokratiese bestel sedert 1994. Dit beskryf die aanvaarding van die Belydenis van Belhar in 1986 en die oorweldigende invloed wat dit op die gemeentelike lewe self, asook die gemeente se soeke na eenheid met die NG Kerk en ekumeniese samewerking gehad het. Dit is in ’n groot mate die geskiedenis van feitlik die hele Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk en later die Verenigende Gereformeerde Kerk tot en met 2009. Die boek bevat ’n magdom foto’s en is ’n waardevolle hulpbron vir enige navorsing oor die ontwikkeling van die Verenigende Gereformeerde Kerk.
Die boek kan per e-pos by die Argief bestel word en kos R250,00 plus posgeld.
Klik hier om te bestel: e-pos

[Boek 3] Murray – Gestuurdes van God [Outeur: Dr Andrew Kok]

Hierdie koffietafelboek handel oor die stamvader, ds Andrew Murray van Skotland en sy vrou Maria Stegmann en hul sestien kinders. Die boek begin met ’n genealogie van die eerste drie generasies van die Murray’s en daarna word gekyk na die predikante van die vierde generasie. Die boek ontsluit die argivale bronne wat by die NG Kerk Argief beskikbaar is. Daar is ruimskoots gebruikgemaak van fotomateriaal uit die Argief. Die boek beskryf ook die nalatenskap van die Murray-familie en hulle invloed op terreine soos onderwys, sending en maatskaplike sorg.
Die boek kan per e-pos by die Argief bestel word en kos R575,00 plus posgeld.
Klik hier om te bestel: e-pos

[Book 2] Andrew Murray – Letters to his children [Outeur: Dr Isabel Murray]

Die skrywer beskryf die boek as ’n “exposé of a vulnerable father” en verduidelik dat die briewe aan sy kinders ’n unieke blik op Andrew Murray bied. “Delikate verhoudings en lewenskrisisse word blootgelê, maar die oorhoofse storie wat vertel word, is een van God se onvoorwaardelike liefde.”
Kyk gerus na hierdie video waarin Isabelle meer oor die boek vertel – Video.

Bestel die boek deur ’n e-pos aan dr Isabel Murray  te stuur. Die boek kos R500,00 plus posgeld.

Klik hier om te bestel: e-pos

[Boek 1] Randfigure – Stemme van toe tot nou [Redakteurs: Dr Lisel Joubert en dr Isabel Murray]

Randfigure is ’n monumentale boek, aangesien dit die eerste boek is wat deur die Argief van die NG Kerk in SA se Publikasiereeks uitgegee is. Dit bestaan uit ’n bundel toegeligte verhale of stories, uitgegee ter viering van 30 jaar van vroue in die amp met Lisel Joubert en Isabel Murray as redakteurs. Die boek is opgedra aan wyle prof Mary-Anne Plaatjies van Huffel, ’n pionier, ’n stem en ’n “presence” wat ’n visie gehad het van ’n wêreld waar ons mekaar as mense sien. Die fokus van die bundel is op vroue as randfigure, veral in die sending, waar daar vir hulle ruimte was om hul beroepe te kon uitleef.
Die boek kan per e-pos by die Argief bestel word en kos R150,00 plus posgeld.
Klik hier om te bestel: e-pos

VIDEO’S

Bekendstelling van publikasies

Die volgende YouTube video’s is oor “Randfigure – Stemme van toe tot nou” beskikbaar:

  • Die waarde van die Argief en Randfigure – Andrew Kok – Video
  • Die samestelling van die boek – Isabel Murray – Video
  • Inleiding – Rethie van Niekerk – Video
  • Emma Rutherfoord Murray – Pascal Pienaar – Video
  • Alice Mathewson Brink – Bianca Truter-Botha – Video
  • Ellen Faul Smith of Tshilidzini – Maretha Laubscher – Video
  • Jan en Britta van Zijl – Hanneke Meyer – Video

Bekendstelling van die Kerkargief

Lizelle de Bruin van WordWise Media (Pty) Ltd het ’n uitstekende video oor die werksaamhede van die NG Kerk in SA se argief saamgestel. Dit kan by die volgende skakel besigtig word:
Mp4

WILLIE JONKER

Willie Jonker Digitale Argief

Die Willie Jonker Digitale Argief is op inisiatief van dr Gert Duursema begin. Dr Duursema is ’n oudstudent van prof Willie Jonker. Hy was ingeskryf om sy MTh onder Jonker se studie leiding te voltooi. Algaande het hy begin om Jonker se werk te versamel. Sedert die jaar 2000 het die gedagte ontstaan om ’n digitale argief daar te stel. In 2011 het die weduwee van prof Willie, mev Bettie Jonker die hele argief van haar oorlede man – uitgesonderd die persoonlike korrespondensie oor die Rustenburg verklaring – aan dr Duursema beskikbaar gestel.

Talle ander pennevrugte is in tydskrifte, koerante, argiewe, ensovoorts – hier en in die buiteland – opgespoor. In die proses het dr Duursema ’n magdom van prof Jonker se gepubliseerde en ongepubliseerde werk versamel – sommige waarvan geheel en al onbekend is in Suid-Afrika. Dit alles (net minder as ‘n 1000 dokumente) is reeds op die illie Jonker Digitale Argief gepubliseer. Klik hier vir Willie Jonker Digitale Argief (http://williejonker.co.za/)

LOGO

Die “logo” of “Kerkseel” van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika

Maatskappye het gewoonlik ‘n logo. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (NG Kerk in SA) se logo is aanvanklik die “Offisiële Kerkseël” genoem. Die korrekte woord is egter net “kerkseel” – sonder die deelteken.
Die NG Kerk in SA se Kerkseel het ’n interessante geskiedenis. Dit het oor die jare verskeie weergawes beleef. Lees gerus in die volgende aflaaibare dokument meer oor die geskiedenis en betekenis van die kerkseel: PDF

Die Argief het ’n paar versoeke ontvang om die logo (of dan kerkseel) van die NG Kerk in SA in ’n duideliker formaat beskikbaar te stel, sodat gemeentes dit in drukwerk kan gebruik.Hierdie digitaal verbeterde kerkseel is uiteindelik in 2017 formeel geregistreer as die NG Kerk in SA se “embleem”. Lees daarvan in die Staatskoerant van 13 Oktober 2017 (Nr 41178).

Die nuutste weergawe van die kerkseel kan hier afgelaai word as ’n PNG (Portable Network Graphic) prent. Die formaat is deurskynend, sodat dit ook op ’n kleur agtergrond gedruk kan word. Dit is ook in ’n kleiner JPEG (.jpg) formaat beskikbaar. Kontak die Argief vir ander formate of behoeftes.

  • Klein: Geskik vir e-pos (.jpg): Klein
  • Medium: Geskik vir dokumente: Medium
  • Groot: Geskik vir drukwerk: Groot
  • Geskik vir professionele drukwerk (.png): PNG
  • Nuwe embleem – sien hier onder (.png): PNG

Die nuutste weergawe van die kerkseel

Tafelberg – Die berg dui die ligging van die sinode aan: die “Kaapkolonie” en deesdae die Wes-Kaap. Berge het egter ook ’n mooi geestelike betekenis. Psalm 125: 2 sê “Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.” Die berg wil dus nie net die plek aandui nie, maar ook die beskerming van die Here.
See en Seilboot – Die seilboot vertel die verhaal van hoe die lidmate in die Kaap aangekom het. Saam met Jan van Riebeeck (1652) se koms, het die Bybel en die gereformeerde geloof na die nuwe kolonie gekom. Die koms van die Hugenote (sedert 1688) het die Gereformeerde Kerk verder gevestig. Die Hugenote was Franse gereformeerde gelowiges – mense wat vanweë hulle gereformeerde (ook protestantse geloof genoem) wreed vervolg is deur die Katolieke kerk. Die Hugenote het via Nederland na Suid-Afrika gekom.
Son – Die son word besonder duidelik aangetoon. Die vermoede is dat dit verwys na Maleagi 4: 2 wat praat van “die son van redding skyn met genesing in sy strale.” Gereformeerdes glo dat dit verwys na Jesus Christus. Die Bybel, die Kruis en die Son vertel dus duidelik dat dit hier gaan om ’n kerk wat die verlossingsboodskap van Jesus Christus in Suid-Afrika wil verkondig.
Vrou – ’n Vrou word dikwels gebruik om die kerk te versinnebeeld. Daar word soms gesê dat God ons Vader is en die kerk ons Moeder. Die vrou versinnebeeld dus vermoedelik die kerk of die gemeentes.
Kruis – Die kruis is die simbool van die Christendom. Dit verwys na Jesus Christus se sterwe aan die kruis.
Die Bybel – Die Bybel staan sentraal in die gereformeerde kerke. Die gereformeerde kerke gee aan die Bybel die hoogste gesag. ’n Kerkvergadering of ’n pous kan nie besluite neem wat die Bybel weerspreek nie. “Sola scriptura” (die Skrif alleen) is dus een van die hoekstene van die gereformeerde of protestantse belydenisskrifte.
Anker – Die anker is ’n simbool van vastigheid en hoop – ook ’n verwysing na die Kaap die Goeie Hoop.
Hart – Die mensehart wat op die altaar staan en brand is ’n teken van die liefde wat hom geheel en al aan God wy. Die anker (hoop), kruis (geloof) en hart (liefde) versinnebeeld gesamentlik 1 Korintiërs 13: 13: “En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!”
Altaar – Die altaar is vermoedelik ’n rots en verwys na die Kerk as die rots. Dit verwys vermoedelik na Matteus 16:18 waar Jesus vir Petrus sê: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
Teks – Die teksverwysing is na 1 Korintiërs 14:40 wat in die 1983 Afrikaanse Bybel lees: “Alles moet egter gepas en ordelik geskied.”
Naam – Die naam van die kerk vertel dan ook dat dit die “Nederduitse” (uit Nederland) Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika is. Aanvanklik was die Kaapse Sinode (sedert 1824) die enigste sinode van die NG Kerk. Maar as gevolg van verskeie redes ontstaan daar al meer sinodes buite die Kaapkolonie. So kry Natal in 1861, Oranje-Vrystaat ’n eie sinode in 1865 en Transvaal in 1866. Pogings tot vereniging van die sinodes het na Uniewording in 1910 misluk, maar in 1962 is hierdie pogings uiteindelik suksesvol met die totstandkoming van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Die oorspronklike kerk het egter deurgaans sy naam behou: Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.

Algemene sinode se embleem


Die Algemene Sinode van die NG Kerk het ook so ’n meer informele kleurvolle embleem. Laai dit gerus hier af: PNG

Navrae

Skryf gerus ‘n e-pos aan die Argief of gebruik die kontakvorm by “Kontak ons“.